Hoofstuk 1:

Teleurstellings

Soos ek die sigaret se rook uitblaas, kom daardie bizarre gedagte wéér. Dis meer soos `n movie wat voor my uitspeel. Ek staan voor `n massa mense en praat. Niks hiervan maak sin nie…
Eintlik rook ek skelm in ons agterplaas. Ek vat `n diep trek.
In my kamerjas op die agterstoep, praat ek met die gehoor. In my verbeelding eet hulle elke woord van my praatjie op. Hulle lag vir my stories en raak honger vir die waarhede wat ek deel. Die crowd love dit. Die mense hou van wie ek is. Ek voel aanvaar…
Hoe meer ek praat, hoe meer verloor ek myself in realiteit.
Ek geniet dit so! My hart voel lewendig. Ek stap op en af, terwyl ek met die hele gehoor oogkontak maak. Dit is asof ek in `n totaal ander wêreld leef.
Dit voel asof die hemel lewendige asem oor my uitblaas.
Ek wil nie ontsnap uit my preek-praatjie nie. Ek wil hier bly. Dit voel of dit `n werklikheid kan wees. Dit is soos `n mondeling, maar nie voor my klasmaats nie.
Hmm, dit terwyl ek eintlik `n Marlboro uitblaas. Wat was dit dan nou?
Dis bloktyd in die eksamen. Ek moet eintlik `n vraestel gaan deurwerk, maar ek haat wiskunde. Dit laat my soos `n totale mislukking voel. Ek is bang ek gaan more wéér misluk! Die ekstra klasse help ook nie.
Dit laat my so dom voel. Gaan ek ooit bo uitkom, waar ek soos `n sukses gaan voel?
Ek glo ek werk hard. Wiskunde en Natuurwetenskap is nou maar net nie my uitskiet vakke nie.
My ouers praat so graag van ander mense se kinders wat nou so wonderlik is, en wat dié en daai bereik het.
Damn onderwysers! Hulle werk elke dag met kinders en verwag seker dat ek onderskeidings in al my vakke sal kry. Gah, I wish!
Onderwysers het mos net meer `n liking in kinders wat beter op skool presteer. Dit laat hulle seker goed voel, omdat hulle kan sien dat hulle akademiese insaai groei bring. Of onnies like die doodstil kind wat super gedissiplineerd daar sit.
Ek is nie een van daardie kategorie kinders nie, my vriendinne ook nie.
Ek voel ek is gemiddeld in alles, maar goed in balans. My pa sê tog balans is goed…
Ek is nie `n gevrekte koek in die klas nie, maar het tog ook die wysheid om die onderwysers te respekteer. Ek vaar goed in sport, ek neem deel aan kultuur aktiwiteite, maar ek is nou nie `n Olimpiese ster uitblinker in een van hulle nie. Ek skyn wel in almal!
Daar bestaan mos ook `n gemiddelde klas kind, die tipe wat die onderwysers so half oorsien. Hulle dink ons vaar goed en cope, maar ons wys nie genoeg sparkle om in hulle oë `n uitblinker te wees nie.
Dit is seker ek! Goed genoeg om nie nie as `n flop gesien te word nie, maar ook nie goed genoeg om as `n presteerder erken te word nie.
Ek hoop my ouers kan ook eendag op my trots voel. Alhoewel hulle op dié stadium genoeg probleme van hulle eie het. Ek dink nie hulle is regtig gepla oor my suksesse en of dit vir my belangrik is nie.
Daar is goed wat ek gehoop het om al te kon bereik in my lewe, wat nie so uitgedraai het nie. Ek wil `n beter mens wees…
Hulle was seker trots op my toe ek medaljes in swem gekry het, maar ek wil nie meer swem nie. Die afrigters hier is nie soos my afrigter vroeër nie.
Ek het hulle seker teleurgestel.
Soos wat ek myself teleurgestel het, omdat ek nie die beker op laerskool gewen het nie, of omdat ek nie as `n leier gekies was nie. Of omdat ek my medalje by die MTBS atletiekbyeenkoms gemis het.
Ek onthou die gebeure soos gister. Ek wil ook wen in die lewe. Is ek nie goed genoeg om te wen nie?

# # #

Almal in die saal staan soos een man op en klap hande. Ek vries in my stoel. Dit is nie my naam nie. Ek het gehoop die onderwyser gaan my naam uitroep. Ek het al die oomblik imagine en dit in my kop afgespeel.
Al die tick boksies is dan agter my naam. Hoekom kry sy die toekenning en nie ek nie? Ek byt op my lip. Daar skiet so `n skerp pyn gevoel deur my hart. Dit is nie jy nie!
Ek moet saam met die gehoor opstaan en hande klap, maar ek wil nie. Ek wil uit hierdie saal hardloop en gaan skree. “Hou jou in”, dink ek.
Ek doen dit. Fake-wees gee jou mos `n plek in die prentjie van die wêreld se oë. Ons is mos gemaak om in te pas en nie uit te staan nie. So, staan op soos `n gehoorsame soldaat en doen dit net! Wees gehoorsaam, jou gevoelens is nie nou belangrik nie.
Toe ons klaar my vriendin na die prysuitdeling die aand by die huis gaan aflaai het, kom oorval die seer my weer. Dit is donker in die kar op pad huistoe. My hart voel teleurgesteld. Ek was vol hoop dat ek die toekenning gaan ontvang. Ek het hard daarvoor gewerk.
My ma en pa weet van niks nie. Hulle vra hoekom ek so stil is, “ek is net vaak”.
Ek proe my sout trane wat vinnig oor my wange hardloop. Niemand mag weet hoe seer hierdie ding my maak nie. Ek voel ek het my alles gegee, my prestasies is op skrif. Sy het nie eers daardie goed bereik nie, maar sy is gekies.
Wie maak die besluite? Die besluit wat my laat dink dat ek nie goed genoeg is nie.
Dit was sy wenner-keuse wat my soos `n mislukking laat voel. Hy is definitief nié die onderwyser wat my positief beïnvloed nie, hy sal ook nooit wees nie. Hy verbreed nie my visie nie, hy gee my ook nie `n horison, `n droom of `n bestemming nie. In sy wêreld is net hy koning. Hy is vir seker nie geroep vir onderwys nie!
My ma sê dit is omdat dié onderwyser wat die algehele wenners kies, nie van haar hou nie. Haar mond is, volgens haar, te groot in die personeelkamer, wanneer hulle besluite neem waarmee sy in beginsel nie saamstem nie.
My ma is die onderwyseres wat kinders se oë vir die lewe oopmaak. Ek weet, want as oud-leerders haar na 20 jaar iewers raakloop, is hulle vol waardering vir haar. Sy is daai een wat impak maak deur die waarheid in leerders in te ploeg.
Ek is ook soos my ma, `n rebel wat dinge doen, al is dit soms stroomop. Ek wil net `n rebel vir die regte goed wees!
Soms is ek maar `n rebel vir verkeerde goed ook. Dan is ek ook nie goed genoeg in my eie oë nie.
Hoe sal ek dan `n sukses in my eie oë kan wees? Ek dink nie dit lê in my krag om sulke goedheid te bereik nie.

# # #

Kan ek nie maar deurskynend wees in dié oomblik nie?
Ek het gedink ek doen haar `n guns om haar saam met my huis toe te bring. Ek wou haar nie alleen na skool vir twee ure agter los, terwyl sy moes wag voor sport begin nie.
Ons huis was stapafstand van die skool af. Ek en sy kom van verskillende agtergronde. Sy was een van my eerste goeie vriendinne toe ek `n vreemdeling in hoërskool was. Ons was daar vir mekaar.
Ons albei was honger. Ons het nog daaroor gepraat, soos ons teruggestap het.
Op pad huistoe het ek in my agterkop kreatief probeer raak met wat ek vir ons aanmekaar kan slaan. In my kop was daar nog brood en kaas. Ek wou vir ons `n lekker snackie iets gemaak het.
Ek hou daarvan om mense spesiaal te laat voel. Ek het nog goed oor myself gevoel, oor my weldaad.
By die huis het sy solank haar sport klere gaan aantrek, terwyl ek vir ons iets te ete wou maak. Ek wil die brood in daardie hartjie vorm uitdruk. Dit was my plan.
Maar toe.
“Néé!” Daar is net `n korsie brood oor. Ek skarrel na die vrieskas. “Shucks.” Daar is ook nie `n gevriesde brood nie.
Ek wou toe vir haar vrugte aanbied en lekker soet tee. Daar is een gerimpelde ou appel in die vrugtebak. Daar is net melk vir `n baie sterk, byna swart koppie tee. Ek kan tog seker nie vir haar pap gee nie?
Ek was bang. Wat gaan sy tog dink? Sy gaan weet ons is eintlik arm. Sy gaan weet ons kry eintlik baie swaar.
Carmen kom toe by die kamer uit. Ek wou nog my woorde mooi versier. Ek wou nog `n leuen uitdink, maar die oomblik was net te groot.
“Hier is nie kos in die huis nie.” Ek het die storie bietjie uitgerek om die oomblik vir myself beter te maak.
Ek wou nie bestaan het nie. Dit het my so skaam gemaak. Daar was letterlik geen kos in die huis om vir my vriendin te gee nie.
Die oomblik was vir my so ongemaklik. Dit was vir my so `n verleentheid. Hoe kan my ouers dit aan my doen?
Ek was diep teleurgesteld. Hierdie is nie my skuld nie. Nou moet ek skaam raak oor hulle finansiële gemors. Hoe kan hulle dit aan my doen?
Ek wens ek het `n ryk ma en pa gehad. Ek sal nooit weet hoe lekker dit voel om net alles in die huis te hê nie. Daar’s huisgesinne wat net ekstra van alles het. Goed soos `n lekkers-en-chips-kas. Hulle kan net altyd vat, want daar is in oorvloed.
Dit voel of my ouers my in die steek laat. Ek sal nooit daardie vriendin kan wees wat vir my maats in oorvloed kan bederf nie. Dit is tog wie ek wil wees. Ek pas nie in by die ryk kinders nie.
Soos daardie keer wat ek vir my graad sewe maats `n afskeid wou hou voor ons getrek het. Ek wou hulle vir oulaas vir `n sleepover oornooi. My ma het net gesê daar is nie geld nie. Onmoontlik was toe nie vir my `n opsie nie. Ek hou daarvan om iets uit niks te maak!
Ek het my sakgeld gebruik om worsbroodjies, viennas en popcorn pitte te koop. En rooi koeldrank. Dit was `n goedkoop uitweg. My ma het nog die popcorn half verbrand ook, of dit was nat. Dalk was die pitte net cheap. Ek was so kwaad vir haar!
Hulle embarrass my net. `n Ander keer het die kerk vir ons groceries gekoop. Niemand mag dit ooit weet nie.
Ek is teleurgesteld in hulle, dat ek nie vir ander die beste kan gee nie. Dit hou my terug in die lewe! Hierdie armgat huis laat my voel of ek misluk. Ek raak agter.
Ek is seker nie gemaak om bo uit te kom nie.
Dit kan tog nie waar wees nie. Ek wil nie hê dit moet so wees nie. Daar is tog hierdie strewe in my. Asof iets my aanmoedig om nie op te gee nie.
Dalk is dit die Here wat hier binne my veg. Miskien moet ek meer op Hom fokus. Net die Here kan my waardig laat voel. Hy is tog die glorious een! Of so sê hulle in die kerk.
Hy kan tog dinge regkry wat ek nie kan nie. Hy het dit al vir my gewys.
Ek onthou daardie keer wat ek my provinsiale kleure in swem gekry het. Ek het so gebid vir dit, maar ek het toe eers nie die span gemaak nie. Later het die skool `n oproep gekry dat een van die swemmers onttrek het. Dit het vir my toelating tot die span gegee. Die Here het iets onmoontlik kom verander!
My ouers het toe ook nie die geld gehad om vir die toer na Durban te betaal nie. Gelukkig was Oupa en Ouma al te gewillig. Maar my ma-hulle het my nog nooit van wonderlike geleenthede weerhou nie. Hulle probeer om vir ons die beste te gee.
Ek vertrou nie die Here met alles in die lewe nie. Dalk sal ek eendag as ek groot is.
Ek verstaan nie hoe daar goed in my hart is om te bereik, terwyl die pad daarheen so donker lyk nie. Moet dit dan nie alles sin maak nie?
“Is ek nie goed genoeg nie?” Of, so dink ek binne my hart.
My lewe is nie soos `n stel trappe na bo nie. Dit voel of ek stilstaan, terwyl ander op beweeg. Dit sal nie vir altyd so wees nie, ek weier.
My broer sê daar is ’n verskil tussen ’n toets misluk en in die lewe misluk. Hy wil nie misluk nie. Ek ook nie!

Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het. Mag Hy elke goeie voorneme en geloofsdaad met krag tot volkome uitvoering bring.
2 Tessalonisense 1:11 (NLV)

Dis vir jou!

Sy is onbeskaamd `n tiener-rebel, wat soos `n teologiese fout in haar godsdienstige gesin voel. Diep in haar hart wil sy net help om die gebroke wêreld `n beter plek te maak, maar sy voel verlore. Die maskers wat die wêreld en die kerk voorhou, verpes sy. Sy glo sy is uniek en dat groepsdruk nie `n houvas op haar het nie. Maar toe haar ouers besluit om te skei, het haar poging om “haar wêreld te red” inmekaar getuimel.

Sy vind haarself as `n party girl, wat liefde in die arms van verskillende figure vind. Keer op keer kruisig sy haarself, omdat sy weet dat sy verlore en honger vir aandag is. Kos raak haar toevlug om elke stukkende emosie te versmoor.

In `n poging om haarself te vind, gaan studeer sy weg van haar stukkende omstandighede. Die studente partytjies vermaak haar glad nie, maar wel die nuwe “Christen boyfriends”.

Sy begin werk as joernalis op die Kaapse platteland wie se wêreld vining in `n sendingveld ontaard. Twee traumatiese voorvalle en `n reuse liefdesteleurstelling kry haar amper onder en sy soek antwoorde by die Here.

In haar soeke ontmoet sy haar trouman en begin `n nuwe “droomwerk”. Die egpaar word die diepe Afrika ingestuur waar hulle liefde vir mense tot op die uiterste getoets word. Gaan sy kies om te voldoen aan wat mense verwag of gaan sy braaf wees en haar droom volg?

Die boek is gratis, omdat niemand weerhou moet word om die vrymakingskrag van God te ontdek nie. Indien hierdie boek of @niePlastiek jou inspireer, maak `n donasie. Alle fondse word gebruik om relevante inhoud te genereer wat jongmens-kwessies aanspreek.